Skip to main content

Die omstrede legendes en mites wat om die Xhosa hoofman Mgolombane Sandile Ngqika ontstaan het

Sandile (afgelei van Alexander) is in 1821 te Burnshill gebore en sterf te isiDenge in 1878 as seun van die Xhosa opperhoof Gaika (Ngqika) en sy ongewilde maar skerpsinnige Tembu grootvrou Suthu. Sandile was veral bekend vir sy fisiese gestremdheid, ‘n verskrompelde linkerbeen en ook vir sy wit ryperd. Sandile het die kapteinskap van die Ngqikastam en die opperhoofskap van die Rharhabestam in 1841 oorgeneem. As jongeling is hy deur sy broer Mqoma onderrig, maar dié het hom geminag weens sy gebrek en het hom beskou het as ‘n swakkeling met ‘n  weifelende geaardheid. Dit was ongegrond want Sandile het sy mense in die grensoorloë van 1846/7 en 1850/53 gelei.

Die laaste en moedigste fase van Sandile se lewe was toe hy na die nederlaag van die gekombineerde Xhosamag tydens die Slag van Kentani op 7 Februarie 1878 tot sy dood die sobere en vasberade leier word van die guerillastryd teen die Britse magte. Dit is hierdie fase van sy lewe wat van hom ‘n legende gemaak het. Dit het grotendeels berus op die epiese maar onsekere omstandighede rondom sy dood na ‘n hinderlaag deur ‘n Mfengu -patrollie in Mei 1878.

Dis onseker of hy in daardie skermutseling gesneuwel het, en of hy verwond is en eerder as ‘n lyk van die gevegs-toneel verwyder is deur sy troue volgelinge. Die raaisel verdiep verder omdat die presiese datum waarop die sker-mutseling plaasgevind het en die identiteit van die persoon wat later die lyk ontdek het,  onseker is. ‘n Patrollie onder kaptein John Landrey is deur ‘n raadsman van Sandile, Juba, gelei na die IsiDengebos om na die lyk te soek. Manskap Jimmy L Devitt het op 7 Junie in die Dontsabos op die lyk afgekom en dit as Sandile geïdentifiseer. Die lyk is in Juba se kombers toegedraai, op ‘n perd vasgemaak en na Stutterheim geneem waar dit op ‘n waseil neergelê is. Die mediese offisier Dr Herbert Everitt van dieTarkastad Volunteers het die lyk ondersoek  en bevind dat die uiterlike toon dat die dood vier dae tevore ingetree het. Die linkerkant van die gesig, die linkeroog, die regterarm  en twee klein plekkies is deur wilde diere weggevreet. ‘n Koeëlwond van agter reg bo die regterlende het deurgedring en die 7de en 8ste rib versplinter en fragmente is in die maagholte ingedryf. Inflammasie en bloederigheid rondom die wond, dui op besering ‘n paar dae voor die dood en ander uitgebreide snye aan die sagte dele, versplinterde bene en die grootte van die wondopeninge dui op ‘n  wond wat deur ‘n Sniderkoeël van ,577 kaliber veroorsaak is.

Die volgende oggend is die lyk in ‘n waseil toegedraai en deur 8 Mfengu’s op hul gewere na die graf op Schuch se plaas in die Amatole Royal Reservaat in die Piriebos gedra. Hulle is gevolg deur die manskappe van die Kaffrarian Rangers, dit is die Wodehouse True Blues en die plaaslik gewerfde Amatole Mfengu Afdeling. Teen elfuur is die lyk in die graf neergelaat onder sang van die Mfengu wat krediet geneem het vir die dood van “die Tier van die Woud”. Magistraat FX Schermbrucker van Stutterheim het in sy rede die groot groep swart omstanders gemaan teen opstand en rebellie. Al die blanke manskappe in die kamp het ook die begrafnis bygewoon, asook die Imperiale troepe van Mount Kemp wat met ‘n patrollie onder Majoor Dunbar onderweg was, en ook 500 Fingoes van Maclean se opgekommandeerde mag.

Sandile is begrawe tussen twee blanke manskappe, Joseph Dicks van die Wodehouse Blues, vrywilligers van Dord-recht en Frank Hillier van Bowker se reserwe, wat albei in gevegte rondom Isidenge gesneuwel het. Van hierdie simboliese gevangeskap het Schermbrucker gesê: “Dit sal die Swartwag stil hou.” Dit sou Sandile se volgelinge oor-tuig dat sy gees nie sou dwaal nie. Die graf het mettertyd in vergetelheid verval totdat die Historiese Monumente Kommissie in 1941 ‘n bronsgedenkplaat daar opgerig het. Die inskripsie het verwys na die skietgeveg van die Britse troepe. Na plaaslike besware is die bewoording ‘n jaar later gewysig om erkenning te gee aan die rol van die plaaslik- opgekommandeerde troepe.

Uiteindelik, deur aandrang van opperhoof Apthorpe Mxolisi Sandile en sy familie, is ‘n gepaste gedenkteken in die vorm van ‘n borsbeeld op die graf van Sandile opgerig en op 9 Desember 1972 amptelik onthul.

Onder Sandile se volgelinge bestaan die mite dat hy by die Xhosa Nasionale Gedenkteken by Ntaba ka Ndoda begrawe is en daar sal rus tot die dag dat sy  volk hom weer nodig het, wanneer hy saam met ander helde weer sal  opstaan. Om die mite dat sy lyk onthoof is en die skedel as ‘n oorlogstrofee deur kaptein Carrington na Engeland geneem is, finaal as onwaar te bewys, is Sandile se lyk opgegawe en deeglik ondersoek.  Die lyk was volledig.

Bronnelys

  • Albertyn, CF: Ensiklopedie van die Wêreld; Boëseken,AJ: Die Nuusbode
  • Bulpin, TV: Illustrated Guide to Southern Africa
  • Crealock, J: Frontier War Journal
  • De Kock, WJ: SABW II; Erasmus, BPE: Op pad in Suid-Afrika
  • Metrowich, FC: Frontier Flames; Milton, J: Edges of War
  • Nienaber, Steyn & Hutten: SA Argeologiese Bulletin 63 (187), 2008
  • Potgieter, DJ: SESA, Vol. 3, 9, 10, 11
  • Rosenthal, E: Encyclopedia of Southern Africa
  • Scannell, JP: Afrikaanse Kernensiklopedie
  • Steyn, A: Off the beaten track

Persons

  • Hits: 4