Die Geskiedenis van Sir Lowry's Pass
Die Kaapse Skiereiland is van die res van Suid-Afrika in die ooste en suid-ooste. afgesluit deur bergreekse soos die Hottentots-Holland reeks wat sowat 50km oos van die stad geleë is. Dit was die hoofversperring wat ontdekking van die binneland en spesifiek van uitbreiding na die Overberg, die vrugbare kusstrook van die suidkus, voorkom het. Al oorgang was die sg. Gantouwpas. Lank voordat enige mense ooit oor hierdie pas gereis het, het troppe elande op soek na groen weivelde, in die wintermaande oor die berge na die weivelde van die Kaapse Vlakte getrek. Trek-olifante, gelei deur die trop se matriarg het ook hul tog oor die pas na die Kaapse Vlakte se weivelde gemaak. ‘n Khoi-stam, bekend as die Gantauwers (Mense van die Eland) het ook oor hierdie pas getrek. Hulle het die pad “T’kanna Ouwe” of “Gantouw” genoem. ‘Gan’ is die Khoi-woord vir eland en ‘touw’ die Khoi-word vir pad. Latere reisigers het ook hierdie betekenis oorgeneem en dit die ‘Elandspat’ genoem. Nog later was dit onder die ossewa-reisigers bekend as ‘Hottentots-Holland Kloof’. John Barrow, William Burchell en Lady Anne Barnard het almal die pas as steil en uiters gevaarlik beskryf. Die vroegste veekopers, Hendrik Lacus en Jeronimus Cruse, wat in 1663 deur kommandeur Zacharias Wagenaar uitgestuur is, was waarskynlik die eerste blankes wat die pad oor die kloof gevolg het.
Die Gantouwpas was egter nie die enigste struikelblok tussen die Kaap en die binneland nie. Die sanderige Kaapse Vlakte was berug as plek waar waens in die dik sand vasgeval het. Gevolglik was daar geen vaste roete ooswaarts oor die vlakte nie. Wadrywers het die spore van ander waens wat reeds die dun sandkors versteur het, vermy. Gevolglik was die vlakte deurkruis van rye waspore.
Gantouwpas was vir meer as 150 jaar die hoofroete tussen die Kaap en die suidelike binneland, totdat die Sir Lowry’s pas in 1830 geopen is. Teen 1821 het meer as 4500 waens per jaar oor die pas getrek, al was dit uiters steil en baie gevaarlik. Selfs die laer heuwels in die omgewing van die huidige Sir Lowry’s Pas-dorpie, bekend as die ‘Roode Hoogte’ was ‘n gebied van onstabiele grond waar wadry-wers ‘n onafhanklike roete gesoek het. Dit word duidelik uitgebeeld deur Thomas Baines se waterverfskildery van die Hottentots-Holland bergpas waarop talle waspore getoon word. Die eintlike roete van die pas verder aan, word duidelik getoon soos wat dit teen die berghang uitslinger.
Die bygaande foto wat volg is geneem vanaf dieselfde punt as die waterverfskildery. Dit toon die ou tolhuis soos dit tans lyk . Die groewe van die waspore teen die “Roode Hoogte” agter die tolhuis is gemaak deur die remskoene wat die gang van die waens teen die steilte af, moes vertraag.
Lt-Generaal Sir Gailbraith Lowry Cole (Wikipedia)
Sir Lowry Cole, Kaapse goewerneur van September 1828 tot Augustus 1833, het besef dat die ekonomiese ontwikkeling van die Kaapkolonie gestrem was deur die gebrek aan gangbare passe oor die omringende bergreekse. Charles Michell, offisier van die Koninklike Artillerie, is in 1828 aangestel as Landmeter-Generaal, Siviele ingenieur en Superintendent van Werke van die Kaap. Hy was ‘n toegewyde, innoverende pad-ingenieur. Ten spyte van ‘n geldtekort as groot struikelblok, het Goewerneur Cole, sonder toestemming van die Britse Koloniale sekretaris, vir Michell opdrag gegee om die ou pas te verbeter. Michel het egter in 1829 begin om ‘n beter nuwe pas teen laer koste te bou. Die nuwe pas is op 6 Julie 1830 deur Michell geopen wat onder groot gejuig met ‘n wa, getrek deur net twee perde, die pas te bestyg en weer die pas af gery sonder om remskoene te gebruik. Die pas is daar en dan na die goewerneur vernoem.
Die verbetering van ossewa na perdewa is betekenisvol. Bv. in 1803 het Generaal Janssens se reis met ‘n wa en twaalf osse van Kaapstad na Swellendam 60 uur geduur, terwyl Goewerneur Sir George Napier dieselfde reis met ‘n wa en agt perde in net 30 uur afgelê het. Vandag reis ons moeiteloos per motor in enkele ure oor die pas na Swellendam.
Die Koloniale Sekretaris in Londen het egter geweier om die uitgawe van £8 000 goed te keur en gedreig om dit van die goewerneur se salaris te verhaal, omdat toestemming vir die uitgawe nie vooraf verkry was nie. Ontstelde Kaapse handelaars en boere het egter aangebied om die bedrag te waarborg. Goewerneur Cole het egter met ‘n sterk bewoorde brief teruggekap:
“Die Kaapkolonie is ellendig arm met ‘n bevolking wat yl versprei is oor ‘n wye gebied, en is geskei van die beskaafde dele deur berge met net enkele passe, wat in enige andere wêrelddeel beskryf sal word as onbegaanbaar vir enige wielvoertuig. Afgesny van markte vir hul produkte, is daar geen stimulus vir ondernemingsgees nie en die inwoners moet dus in hul huidige staat van armoede en semi-barbarisme bly totdat gangbare passe gebou is.” Hierdie brief het die gewenste uitwerking gehad en die uitgawe is goedgekeur.
Thomas Baines beskryf sy oortog oor die pasas volg: “Na ‘n vroeë ontbyt, het ons die perde opgesaal en omtrent dadelik die opdraande wat na die Hottentots-Kloofpas lei, bestyg. Die eerste gedeelte is nie vreeslik steil nie, maar so gou as wat die Roode Hoogte bereik word, begin die probleme. Dit is ‘n voetheuwel van die berg, ssamgestel uit harde, droë, rooi kleiagtige grond waarin die pad na bo omtrent twintig voet diep ingekerf is. Hierna begin die rotsagtige berg self, en verrassend kom swaar belaaide waens berg-op en berg-af langs die skrikwekkende roete. Die gevaar vir beide osse en wa vereis uiterste versigtigheid en waaksaamheid. Indien die trekosse onrustig raak en effens afwyk van die roete, of steeks raak en weier om te trek, kan die wa die afgrond in tuimel en die osse saamsleep met onvermybare vernietiging”.
In 1808 – 97 het talle ossewaens die pas gebruik. Ekstra osse is by plase aan die voet van die berg gehuur vir die trek teen die berg uit, bv. by Goedeverwachting (1795 gebou as die ou Brink’s Inn)). Elke wa het tot 24 osse ingespan vir die tog berg-op. Die naby-geleë Cloevermakers Huys is gebruik as tolhuis en elke wa het 4 sjielings tol betaal. Vir die vroeë reisigers was die oorgang ‘n uiters uitdagende tog. Osse is dikwels dood en waens beskadig. Dikwels was die enigste uitweg om die vrag af te laai, en dit stuk vir stuk oor die berg te dra, terwyl die osse en reisigers oor die rotse moes klouter. Groewe in die rotse is gevorm deur die remskoene wat die wiele teen die afdraande moes sluit. Na 250 jaar is die groewe nog duidelik waarneembaar.
Gedurende die vroeë 1800’s het ‘n klein onderhoudspan die pas in redelike orde gehou. Noukeurige waarneming toon gevormde klippe in die dieper groewe. Ongelukkig gaan ryers met veldmotorfietse dikwels onwettig oor die pas en versnel wat dan die pasgemaakte klippe uit hul groewe uitskop. In 1797 het Lady Anne Barnard, wat oor die pas gereis het, verklaar: “Die pad na die kruin was bykans loodreg en die klippe wat uitsteek en waaroor die waens getrek moes word, was so groot, dat ons verbaas dit dit hoegenaamd moontlik was, veral by een punt wat as ‘Die Poort’ bekend staan.”
Die Gantouwpas kanonne
‘n Kort pad na die kruin bring mens by die seinkanonne. In 1734 het die VOC die Oproep-Kanonseinstelsel ingestel wat uiteindelik uit 54 strategies-geplaasde kanonne bestaan het. Die stelsel is beplan om die burgers te voorsien van ‘n kommunikasieskakel tussen die kasteel en buiteliggende distrikte. Dit het so ver gestrek as Citrusdal in die noorde, Worcester in die noordooste en Swellendam in die suidooste. Elke kanon het ‘n aangewese kanonnier gehad wat in die omgewing gewoon het en wat verantwoordelik was om die volgende kanon in die reeks af te vuur. ‘n Gevaar in Kaapstad het die stelsel geaktiveer om burgers in afgeleë distrikte op te roep ter verdediging.
In antwoord op die kanonvuur het 168 berede manne in Julie 1795 uit Swel-lendam onder kommandant Jacobus Delport deur die Hottentotskloof na Kaap-stad opgeruk waar die Hollandse troepe onder bevel van kolonel Robert Gordon op 16 September aan die Britse magte oorgegee het tydens die Eerste Britse Besetting van die Kaap. Hierdie seinstelsel is die 5de en laaste keer in Januarie1806 gebruik toe die Britte by Blaauwberg geland het tydens die Tweede Britse besetting van die Kaap. Daarna het die stelsel in onbruik verval.
Sir Lowry’s pas is in 1930 verbreed en geteer, en van 1956 tot 59 is die boonste gedeelte gerekonstruktureer om draaie te verminder In 1984 het die toename in verkeer vereis dat die pad tot 4 lane verbreed is.
‘n Redelik onlangse verwikkeling was toe politici ‘n afgesonderde plek gesoek het om die vrystelling van Nelson Mandela te bespreek. Die ou Tolhuis is as ideale afgesonderde plek, weg van die media-aandag, gekies. Mandela is op 11 Februarie 1990 vrygestel. Ongelukkig is die gebou tans weer besig om te verval.
Bronne: Albertyn, CF: Ensiklopedie van die Wêreld; Bulpin, TV: Illustrated Guide to Southern Africa; Chadwick,S: History of the old & new Grabouw passes; Erasmus, BPE: Op Pad in Suid-Afrika; Forbes, VS: PIoneer Travellers in South Africa; Fouché, M: The story of Sir Lowry’s; Pass Heap, P:The story of Hottentots Holland; Leigh, M: Toergids vir Suid-Afrika; Potgieter, DJ: SESA; Richings,G: Life and Work of Charles Michell; Rosenthal, E: Encyclopedia of Southern Africa; Ross,G: Romance of the Cape Mountain Passes; Steyn, A: Off the Beaten Track; Uys, I: Suid-Afrikaanse Gids;
- Hits: 6